Vanaf die Berg, Boek III

 

Hoofstuk 10

Die Moses dokumente - Deel 3


"Dierbare kind, inderdaad is jy geseënd onder vroue, want jy kom daagliks om jouself voor My te verootmoedig in diepe gebed. Kind, Ek weet jy is bekommerd, want die dak het begin lek bokant een van jou rekenaars. Moet nie die netwerk aanskakel voordat alles nie droog is nie, want nie een druppel water sal oorbly voordat dit aangeskakel word nie, en alles sal in orde wees. Ja, kind, Ek het My Krag deur jou stem gespreek en met die salwing van My Gees het jy hierdie lek beveel om te stop . Voor jou eie oë het jy gesien hoe dit stop. Dit is `n poging van Satan om jou toerusting te vernietig. Kind, wanneer ek vir jou is, wie kan teen jou staan?"

"My Meester, U is my sterkte en ek verlang slegs U wil in alle dinge. Hierdie lek het ontstaan toe daar geen reën was nie, en ek het geweet dat die bose een aan die werk was. Met my eie oë het ek gesien hoe die lek onmiddellik stop nadat ek dit in U Naam beveel het deur die krag van U Gewyde Gees. Toe ek gebid het, het ek groot krag van U oor my voel kom."

"Kind, My Hand is op jou en My Gees is jou konstante vriend, metgesel en dienskneg. Ek stuur My Gees om my bevele deur jou te doen. Jy is My dienskneg en jy sal baie wonderwerke sien, selfs dit wat jy verlede nag gesien het toe jy in My Naam gebid het vir die uil om voort te gaan. Ja, jy het sewe keer gebid dat dit moes vertrek en dit was weg. Kind, hierdie is die wonderwerke wat deur diens kom. Jy word weereens na die hoogtes van My berg gebring en jy sien dat die deur na die Bokamer oop is. Kom in, want My Gees bring jou hier."

"My Meester, o, watter krag en suiwerheid is daar nie in hierdie glorieryke yl lig nie? Die vrede en die vreugde wat my omvou is te wonderlik vir woorde. Elke keer wat ek hier kom, hunker my siel na hierdie plek. Ek voel so gedreineer deur die duisternis van die wêreld."

"Ja kind, kyk af na die grys en swart energieë wat om sekere plekke draai. Hier en daar in hierdie duisternis is daar een wat My liefhet, een wat die krag en lig van My Gewyde Gees uitstraal."

"My Meester, ek sien en ek sien dat hulle meestal alleen is, behalwe vir die geselskap van engele."

"Ja kind, hier en daar lei een `n gemeente van siele, maar meestal is dit nie die geval nie. Kind, jy tree nou My Bokamer binne. Skryf soos gesien en gegee."

"My Meester, ek sien `n kis, `n houtvertrek wat taamlik klein lyk. Waar die kis bo in die lig hang, lyk die kis onheilspellend vir my. Ek weet dat dit die geheime vertrek is, maar my Meester, hoe is dit dat die vertrek nog altyd in die Bokamer was en ek dit nooit gesien het nie?

"Kind, daar is baie hierin wat jy nog nie gesien het nie en baie wat jy nooit sal sien nie. Jy sien wat Ek toelaat?"

"My Meester, U werke is magtig en ek is dankbaar om `n klein deel te doen. U is barmhartig en vol medelye. U het my liefgehad toe ek myself nie eers kon liefgehad het nie. Ere aan U Naam, JaHshua, die Naam bo alle name. Vergewe my, my Meester, dat ek iets aangeneem het oor hierdie kosbare area."

"Kind, moet nooit enige aannames maak oor wat is en wat nie is nie. My Gees openbaar alles wanneer die tyd reg is, ja, wanneer die siel gereed is om te ontvang."

"Ja my Meester. Daar is baie van ons wat dink dat ons die hele prentjie het, maar ons het slegs `n smakie. Ek was daar, en het gedink ek weet alles, maar was in duisternis verlore.'

"Ja Kind, dit is EGO, "easing God out", soos wat jy al gehoor het. Hulle wat dink hulle weet die meeste, weet die minste, die eerste sal laaste wees en die laaste eerste. Kind, die nederige hart is onderrigbaar."

"Ek smeek om onderrigbaar te wees, My Meester. Vernietig die vroomheid en die weet-alles gedrag in my sodat ek nederig en onderrigbaar kan wees. Hoe meer ek sien, hoe meer leer ek en hoe kleiner word ek in my eie oë. My Meester, U krag maak my bang en nederig."

"Kind, Ek weet dit. Kom nou af na die houtdeur, neem jou sleutel en maak die deur oop."

"Ek plaas die sleutel in die deur en dit maak onmiddellik oop om vier strale lig te toon soos wat hulle in die middel van die kamer bokant die tafel ontmoet. Wanneer ek die kamer nader om binne te gaan, ontspring nog twee lekke in die plafon daaronder in ons nederige woning en water drup aanhoudend vanaf die plafon. Ek verlaat hierdie kamer en die berg om te gaan bid oor hierdie lekke. Een lek hou onmiddellik op, maar die tweede hou aan met drup."

"Ja kind, wanneer een geprop is, breek `n ander oop. Ek het dit toegelaat om aan jou die wapenrusting van die mens te toon. So is dit; wanneer een gat geprop is, lek `n ander een. Maar alles sal binne 15 minute opgehou het. Staan op en meet My. Bewys My hierin. Want dit sal so wees en jou gebede sal nie tevergeefs gewees het nie."

"My Meester, dit sal 8h47 wees. Ek het die tyd gemerk."

Nou, dierbare een, bring Ek jou terug na My berg. Want ek is die Heerser van die aarde. En met My Gees kom jy weereens met jou sleutel na hierdie deur. Kind, maak hierdie deur oop en gaan binne."

"My Meester, ek het binnegegaan en word ontmoet deur vier wit ligstrale en ek sien die dowwe beeld van die vegtende hane."

"Kind, neem dit ter harte, en spreek hierdie vrese aan, want dit het geen plek hier nie."

"My Meester, ek gryp hierdie vegtende hane en ek voel `n diepe hartseer. Hierdie hartseer begin my beetpak en ek voel `n diepe gevoel van rou, van verlies en droefheid. Groot trane begin uit my oë te biggel en dit val in my gesig. Vanaf die holte van my maag wel `n groot hartseer, bedugtheid en vrees op. Ek vrees dat ek op `n manier U liefde sal verloor, dat ek onwaardig sal wees en dat U my sal afsny. Ek vrees dat ek in aansien sal daal want ek is laag. Ek gaan voort om hierdie vegtende hane te omhels te midde van groot snikke. Groot trane baai my gesig en dit val afwaarts. Skielik is ek aangenaam bewus daarvan dat die hane verdwyn het en ek omhels `n enkele wit porselein voorwerp, dit is `n wit poolbeer, `n spaarvarkie. Die trane val in die slot van die bank en maak `n klingel geluid wat my aan die geluid laat dink wat die lekkende plafon gemaak het. My trane het glansende goue muntstukke geword en die lig daarvan spoed opwaarts, en dit baai my gesig en koel my oë af. Hierdie lig is warm en kalmerend en die poolbeer straal groot warmte uit; dit is pelsagtig en mollig. Ek het hierdie beer lief, ek omhels dit en vryf dit. Soos wat ek dit omhels, word dit kleiner en kleiner totdat verdwyn en daar niks meer oor is nie, behalwe `n bal van suiwer wit lig."

"Gaan plaas die glansrykheid op die tafel en sit."

"My Meester, ek maak so en bevind myself tussen hierdie vier strale suiwer wit lig."

"Neem die Moses dokumente by die engel Kikiara en skryf soos gesien."

"My Meester, ek het die volgende bladsy en dit is wat ek lees: "

"Die oordeel is myne," dit sê die Meester.

Helder oë en ore versier met die glansrykheid van die Gewyde Gees, hoor die resonante stem van die Meester. Want Sy gesproke woord is duidelik vir hulle met die helder oë en ore wat op hierdie wyse gebaai is. Luister na die Stem van die Meester. Want aan Hom is gegee om te oordeel, om te veroordeel en om te wy voor die maat van waarheid en wat reg is. Ja, aan Hom is die maat gegee, die heerskappy waarby alle handeling oor tyd gemeet sal word.

En so is die reëls by wyse van die Gebooie van God aan jou gegee, gebring deur myself en gebring na nuwer en groter vlakke deur ons Meester Homself. Val op die grond neer in gehoorsaamheid aan Sy Woord. Kom Sy Wette na, sodat jy nie verlore mag raak en verwar word nie. Maar laat die oordeel oor aan die Meester.

Hoeveel van julle het mekaar nie tot die hel toe veroordeel nie, toe 'die pot die ketel swart genoem het', soos wat julle sê? Hoeveel het die eerste klip gegooi vanuit `n glashuis? Hoeveel het die dakloses gelos om te sterf, en het gegaan om te midde van luuksheid en oorvloed te lewe? Is julle, enigeen van julle, so volmaak, so geestelik volwasse dat julle kan veroordeel en regspreek? Want dit wat julle veroordeel en oor regspreek, was julle gewees of sal julle word.

Om bo `n vlak uit te styg, gee jou nie die reg om ander te veroordeel wat daaronder is nie. En om ondertoe te val, gee jou nie die reg om diegene wat bo is te veroordeel nie. Ja, reik uit na die verlorenes, nie met veroordeling nie, maar met liefde, sagte vermaning en medelye. En leer vir hulle `n beter weg deur `n voorbeeld te stel. Want veroordeling kan nie help nie, maar maak seer. Verwerping kan nooit oprig nie, maar werp neer. Doelbewuste seermaak kan nie genees nie, maar vernietig. Vernedering kan nie saamvoeg nie, maar verdeel. Verdeling van die een teen die ander deur enige wyse of valsheid of negatiwiteit werp klippe na die een wat verdeel het.

Liefde en medelye is die mortel (sement) tussen die stene van vriendskap. Sagte oorreding is dit wat die mortel meng. Dit hou liefde en medelye tesame. Laat jou gedagtes sagkens wees, ja minlik van die een tot die ander. Wens niemand iets sleg toe nie, want dit is die duiwel se gereedskap van vernietiging. Stuur gedagtes van welwillendheid, van liefde en medelye aan jou vyande, sodat hulle jou met soortgelyke oë sal sien. Die sagte hart het die vermoë om om harte sag te maak. Die wyses onder julle leer hierdie dinge op `n vroeë stadium. Die opstandige gees neem baie tyd. Ek is Moses.'

"Kind, ek is Meester JaHshua. Ja, Ek sal alles oordeel. My Gees is een van lankmoedigheid en sagmoedigheid. Ek koester diegene wat My liefhet en Ek seën Myne, ja met koninkryke sonder einde, tot in die ewighede in seën Ek Myne. Kom, dierbare kinders, weg van julle opstandige weë. Want My hand reik uit na julle."

"Staan op in My straal, Kind."

"My Meester, ek maak so, en ek voel hoe ek begin vibreer. Ek word opgevang in hierdie draaiende energieë van groot lig. `n Wit lelie vorm aan my voete, en ek word getrek om daarop te sit. Die reuk is suiwer hemels."

"Adem dit in, kind, want jy sal versterk word hierdeur."

"My Meester, hierdie reuk is baie aangenaam en strelend en ek begin om ontspanne, kalm, vreedsaam en lomerig te voel. Hoe kosbaar is hierdie seëning nie!"

"Ja kind, dit sal genesing bring vir jou sinus allergieë. Moet nie die elektriese verwarmer by jou voete plaas nie, want dit bring stof opwaarts na jou sinusse toe. Nou, kind, kyk na die horlosie."

"My Meester, dit staan op 9h00 en die derde lek het al lankal gestop."

"Ek is JaHshua. Ek is JaHWeH, ja die Allerhoogste God van die Aarde."

Soos getuig, gedikteer en opgeskryf op hierdie 16de dag van November 1997,
Linda Newkirk.

Afrikaans     BOEK I     BOEK II     BOEK III     BOEK IV     BOEK VII     BOEK VIII     BOEK IX