Vanaf die Berg, Boek VII
Hoofstuk 3
"Herlewing Vuur"
"My Geliefde Kind, geseënd is jy op hierdie dag, want jy kom in erns om My wil en My hart na te speur. Soos jy My ken, is Ek jou Vader in die Hemel. Ja, My Kind, hierdie is Hoofstuk 3 van Boek 7. Wees verheug, want My werke wat voor jou lê, is groot en magtig. My Kind, Ek sal nie iemand roep vir `n taak soos die een voor jou, sonder om daardie persoon eers voor te berei vir so `n onderneming nie. Ja, Ek het jou alreeds voorberei, My Kind en Ek het gevind dat jy waardig is vir die taak wat wag. Jy vra, 'Is hierdie herlewing salwing, wat Ek die "Herlewing Vuur Salwing" genoem het, nie ook die "Heilige Vuur," of die "Heilige Wind Vuur" Herlewing Salwing genoem nie? En Ek antwoord dat al hierdie korrek is, maar Ek het dit verkort om te lees, "Herlewing Vuur." Ja, My Kind, hierdie vuur is apartgestel (heilig), want dit kom reguit van My troon af en dit is volmaak en suiwer. Dit is ook `n wind, want dit kom as `n wind en jy het al baie keer die gedreun van hierdie Heilige Wind Vuur gehoor. Verstaan jy nou?""Ja, My Vader."
"My Kind, Ek het vir jou gesê dat daar groot seëninge na jou toe gaan kom, maar dit beteken nie dat jy nie meer vervolg sal word nie. Want selfs nou kom daar `n konstante stroom briewe van sommige van die dwalende kerke en hulle is vol haat en geniepsigheid. My Kleintjie, hierdie kerke wat beheer word deur hierdie dwalende predikers is alreeds geoordeel, want My Gees het hulle al lankal verlaat. Hulle is leë doppe en hulle word bestuur deur leë doppe. Skud die vullis van jou voete af, want jy het met My woord na hulle toe gegaan en hulle het My verwerp. Hulle het jou ook allerhande name genoem. Hulle het jou belaglik gemaak en hulle het jou in die gees gestenig. Laat die (geestelike) dooies kyk na hul dooies, maar hou jou oë op My en My Seun, want die dooies sal nie My werke deur jou stop nie. Ja, My Kind, hierdie Herlewing Vuur Salwing val in sy volheid op jou en mettertyd sal predikante van sommige van hierdie kerke jou in erns kontak. Jy sal saam met hierdie predikante bid wanneer jy deur die Gees van God daartoe aangespoor word en jy sal hulle seën met hierdie selfde Apartgestelde Vuur Herlewing Salwing. Hierdie salwing, hierdie geestelike gawe, sal deur jou na ander mense kom. Ja, baie sal die dag berou dat hulle vroue in hoekies gesit het, waar hulle onder totale beheer moes leef. Ek roep werklikwaar sommige van My gesalfde vroue, profete, apostels, onderwysers, pastore en evangeliste in hierdie laaste dae na die sentrale verhoog toe, vanwaar hulle die wêreld geestelik sal lei. Groot en magtige wonderwerke sal hierdie vroue agtervolg, want hulle sal die salwings van die vroeë profete en apostels ontvang. Dit is nou tyd om verheug te wees, My Kind. Dit is nou tyd om lofliedere te sing wat vanuit die hart kom, want `n herlewing is aan die gang in hierdie land, hier `n bietjie en daar `n bietjie. Wat voorheen teruggehou is, word nou vryelik uitgegee."
"Ja, My Kind, plaas die brief aan die kerke aan die einde van hierdie hoofstuk en mettertyd sal Ek ook vra dat jy sommige van die kerke se antwoorde pos."
"My Kind, kyk agter jou! Wat sien jy?"
"My Vader, Ek sien `n oop pawiljoen soos in `n buite arena, of miskien is dit `n binnemuurse arena, maar daar is pawiljoene en hulle is almal leeg. Ek staan alleen en kyk uit oor hierdie pawiljoene. Skielik voel ek baie vaak, soos wanneer ek gaan slaap, of miskien ervaar ek `n visioen. Ek kyk af en sien dat ek in wit aangetrek is en toe ek rondom my kyk, sien ek baie Boodskappers en `n groot Lig verskyn voor my. Hierdie Lig lyk asof dit vanuit die Hemel kom en ek hoor `n stem en ek weet dit kom van die Hemel af, want dit is U stem, Vader. En U sê, Aanskou My Seun!' Uit hierdie skitterende Lig kom onse dierbare JaHshua. Hy is deel van die Lig en Hy is vol glorie en prag. Terwyl ek neergewerp op die vloer agter die podium lê, kyk Hy na my en sê, 'Staan op, My Kind, want die Aparte Vuur Herlewing Salwing is oor jou,' en Ek hoor `n sterk wind en die hele stadion begin gloei van hierdie vuur wat soos `n sterk wind deur die stadion vee. Terwyl hierdie groot vuur vorentoe beweeg, verdwyn al die pawiljoene, want `n groot Lig is alom en al wat oorbly is hierdie groot Lig, wat `n aparte wit vuur is. Ek staan op voor onse Dierbare JaHshua en Hy kyk na my en plaas `n skitterende doek, wat lyk of dit van iets soos satyn gemaak kan wees, om my nek. Weerskante hang een, twee, drie klokkies aan die some. Toe sê onse Meester JaHshua aan my, 'Die salwing van die profeet Aäron!' En `n groot gloed kom oor my en ek begin dans en skree en ek loof God in onbekende tale. Linte vuur van verskillende kleure kom uit my mond en word skitterende wit lig wanneer hulle versprei. Sodra ek beweeg, omring hierdie linte van vuur my liggaam en wanneer hierdie gewarrel van lig weer wegbeweeg, vorm hulle `n wit lig van vuur. Dieselfde linte kom ook uit my hande en voete en terwyl hulle uitvloei verander hulle ook in `n wit lig van vuur. Onse Meester JaHshua plaas dan nog `n doek om my nek. Albei doeke herinner my aan die soort kledingstukke wat deur priesters om hul nekke gedra word, want hulle is op al die rante geseël, maar hulle is nogtans reguit. Hierdie doek straal `n wit vuur uit, waarin daar ook `n blou glans manifesteer. Terwyl onse Meester JaHshua hierdie tweede doek om my nek plaas, sien ek dat dit vol Lewende Water is. Hierdie Lewende Water val reg rondom my voete en dit maak `n geraas soos `n waterval. Dit spoel oor my hele liggaam, maar tog word ek nie nat nie. Terwyl ek in hierdie water gebaai word, kry ek die gevoel dat ek gelyktydig op baie plekke is. Want dit voel of ek hier en daar terselfdertyd op baie plekke op aarde is. Ek ken die wolke, want ek voel die wolke en ek voel asof ek deel van die wolke is. Ek skyn ook deel van die Aarde te wees en ek voel asof ek maklik `n deel van die Aarde kan word. Ek ken siektes en ongesteldhede in die liggame van ander mense, want dit lyk asof ek die vermoë het om daarnatoe te gaan. Toe sê onse Meester JaHshua vir my, 'Die salwing van Henog!"
Toe Hy dit sê, bevind ek myself waar ek oor `n groot waterval staan, wat my laat dink aan die Niagra Valle. Die Meester sê toe vir my, "Die val van die mens!" Terwyl ek na die valle kyk, sien ek `n man en `n vrou wat al tuimelend oor die valle gaan en die valle word vol bloed, ingewande en afval. Terwyl ek na hierdie bloederige gesig kyk, begin ek `n groot pyn oor my hele liggaam voel. Dit voel asof ek gesteek en geskop word en ek kyk af en sien dat my hele liggaam bloei en ek voel dat ek ook in die bruisende water sal moet val en sterf. Maar toe ek net wil val, tel onse Meester JaHshua my aan die rugkant van my kleed op en omhels my. Daarna sê Hy "Behalwe vir My liefde, die suiwer liefde van God, sal alles val!"
Ek sit langs onse Meester terwyl ons oor die valle kyk en ek begin onbeheersd te huil. Dit voel asof ek al die sondes van die wêreld op my rug dra. Ek raak bewus van die moorde wat wêreldwyd op biljoene ongebore babas plaasvind. Die gewig hiervan is so groot dat ek voel ek gaan flou word. Skielik vind ek dat ek in die grond in wegsak. Ek gaan af, af, af tot binne-in die dieptes van die hel! Die hele plek is vol donker, slymerige kreature soos slange, palings en bloedsuiers. Daar is ook volop spinnerakke, maar hierdie afstootlike dinge raak nie aan my nie. Ek gaan net verder af, af, af. Die geweeklaag van die verlorenes vul my ore en hulle gegil en gekerm laat my naar word. Ek stop vir `n minuut en begin vomeer. Soos wat ek vomeer, stroom bloed en ingewande uit my mond. Ek voel so siek dat ek wil flou word. Ek staan terug om myself teen `n harde voorwerp te stut, maar dit wat ek gedink het is `n rots, verander in `n valdeur en ek word weereens na benede gewerp asof ek in `n hysbakskag afval. "My Meester en My God," roep ek uit, "Waarom doen U hierdie dinge aan my?" `n Swart warrelwind dra my omhoog en ek bevind my in `n groot duisternis en verwarring. "My Meester en My God," roep ek uit, "Waarom het U my hiernatoe gestuur?"
Uiteindelik hoor ek die stem van onse Meester JaHshua en ek sien Sy gesig. Trane van bloed stroom van Sy gesig af en terwyl ek na Hom kyk, steek Hy Sy hand in `n vat en bring dooie babatjies, liggaamsdele van babas, bloed en ingewande te voorskyn. Weereens voel ek asof ek gaan naar word, maar ek kry net droë opwellings, wat vol bitter gal is. Ek huil en tjank voor ons Meester en trane van bloed rol van my gesig af. Ek voel so siek, verlore en afgesny van ons Meester JaHshua, al staan Hy reg voor my. "Waarom? Waarom, my Dierbare Meester," roep ek uit! "Waarom het U my hiernatoe gestuur?" Ek snik en huil onbeheersd. Skielik voel ek Sy dierbare hand wat my aanraak, die hand van onse Meester JaHshua en oombliklik word ek weggeneem van die dieptes van die hel. Ek hou egter aan om onbedaarlik te huil, terwyl my kop teen onse Meester se bors rus. Hy streel oor my kop en Hy begin om vir my te sing. Hier is die woorde wat Hy sing:
"Op die takke van die dood en slyk,`n doring, `n roos, `n kaktus in bloei.
Op die takke van die dood, raak `n onsigbare hand die dooies en sterwendes aan.
Ween klein kinders, vir die lewe wat verby is!
Agtergelaat in die hitte tussen die dorings en kaktusse,`n roos, alleen en sterwend!
Maar Ek, in My liefde, vergeet nie een nie, want almal wat suiwer is, is tuis in My liefde!
Reik uit en raak die dooies en die wat sterwend is, aan.
Die kinders neem Ek huis toe , maar die wat hulle vermoor, sal drink van die beker van bloed, ingewande en afval."
"My Kind, Dit is die rede waarom Ek jou tot in die hel gestuur het, sodat jy van hierdie beker van bloed, ingewande en afval kan drink. As hierdie nasie nie berou gaan toon en tot inkeer gaan kom oor die moord op die ongeborenes nie, sal hulle binnekort van hierdie bitter beker drink. Ek stuur jou uit, My Kind, met hierdie salwing van Apartgestelde Vuur en Lewende Water en jy sal na plekke gaan waar jy nog nooit was nie en jy sal ondervindings hê wat jy nog nooit voorheen gehad het nie. Hierdie herlewing is die finale gawe aan die volk van hierdie land voordat die oordeel gevel gaan word. Die felheid van hierdie oordeel sal afhang van die mate waarin die menigte opregte berou gaan toon. Hierdie oordeel is nie in klip gemessel nie, soos wat baie glo nie, omdat onse Vader barmhartig is. Hy kan van gedagte verander. Wat jy moet doen, My Kind, is om My volk te oorreed om hulle te bekeer en berou te toon. Jy moet sekere leraars met die Apartgestelde Vuur van Herlewing seën en jy moet die siekes gesond maak, die dooies opwek en die gevangenes vrylaat. Alles wat die vroeë profete en apostels gedoen het, sal jy doen, maar baie meer.
Wee aan enigeen wat vroue apostels uitsluit, wat byeenkomste vir apostels hou en die deur opsetlik toemaak vir My gesalfde vroue apostels. Ek sal diesulkes wat hulleself tot gode verhef, tot in die grond verneder. Omdat My gesalfde vroue apostels buite die deur gehou was, sal Ek hulle ophef om groot en magtige werke te doen."
"My Kind, het jy enige vrae?"
"O ja, My Meester! Ek het baie vrae, maar een besondere vraag wat in my gedagtes opkom, is of hierdie salwing beskou kan word as een of twee salwings?"
"Dit is twee in een."
"Die Herlewing Vuur Salwing het dus `n ewebeeld, wat die Lewende Water is?"
"Dit is so."
"Nogtans, word dit die 'Herlewing Vuur genoem?'"
"Dit is so, maar daar is geen balans wanneer die een sonder die ander is nie."
"Waarom word dit nie Lewende Water/Apartgestelde Vuur salwing genoem nie?"
"In hierdie ryk is dit so, maar om dit beknop te hou, word dit die Heilige Vuur Herlewing Salwing, of Herlewing Vuur Salwing genoem. Onthou My Kind, hierdie salwing is `n kool van vuur wat vanaf die troon van God uitgaan en soos wat dit uitgaan, word dit vergelyk met die vloei van Lewende Water."
"O, My Meester, Ek wens dat ek die werke van onse Vader kan verstaan, maar in my hart is ek tevrede om net `n kind in Sy diens te wees!"
"My Kleintjie, omdat jy weet jy is `n kind en omdat jy nederig voor God geloop het, is jy geroep en is jy gekies vir groot werke."
"O, My Meester, ek voel so onwaardig. Ek voel soos `n baie geringe persoon. Ek is so vol diepe ootmoed, My Meester, dat ek nie kan help om voor U te huil nie. Vergewe my, My Meester, maar ek voel so onwaardig."
"Maar jy is waardig, My Kind. Jy is nie perfek nie, maar jy is waardig vir die taak wat voorlê."
En met die neem onse Meester JaHshua my hand, die hand van `n kind en ons tree gesamentlik vorentoe tot binne-in die wit Lig waarin ons verswelg word. Ek kyk na benede en sien dat die stadion hieronder ons deur die kroonblare van wit rose gevul word. Daarna kyk ek oor die stadion en sien dat dit vol mense is. Elke mens aan wie `n kroonblaar van die wit rose raak word onmiddellik genees en vrygestel van enige vorm van droefheid.
Prys onse Meester en God! Aan Hom al die lof en glorie vir altyd en ewig.
Soos getuig, gedikteer en opgeneem hierdie 15th dag van Julie, 2001,
Linda Newkirk
Per instruksie van ons Vader, sal u die profesie van ons Vader in die Hemel, JaHWeH, die Allerhoogste God, wat op 10 Julie 2001 gestuur is aan die kerke in middel Arkansas, hieronder vind. Die brief was aan ses honderd en vyf kerke gestuur en met die laaste telling is 50 terugontvang weens pos-verwante redes. Na 26 Julie 2001 het ons twee haatbriewe en een "moet nie meer stuur nie" -brief ontvang. Nie een enkele pastoor het skriftelik bevestig dat hy en sy kerk die seëninge wat onse Vader belowe het, wil ontvang nie. Dit is `n droewige dag, maar ek is nie ontmoedig nie, want in my gees weet ek dat as daar net een of twee mense is wat positief sou reageer, onse Meester en God herlewing na Arkansas sal bring.
Vandat onse Meester my gesalf het, het ek gesien hoe Hy baie wonderwerke vir die behoeftiges uitvoer en ek het gesien hoe Hy groot en magtige genesings doen! Ek weet dat onse Meester en God met Sy Gees op `n groot wyse beweeg en dat baie genees en bevry sal word. Selfs die dooies sal opstaan, soos wat Hy belowe het.
Aan: Die leraars van die kerke in die Staat van Arkansas
`n PROFESIE VAN JAHWEH, DIE ALLERHOOGSTE GOD
Soos gegee op 1 Junie 2001
Waarskuwings aan die Kerke!
"Aan die kerke van Little Rock en omliggende gebiede, naby en ver en ook oor die hele staat van Arkansas. Onderhou My woorde, want Ek is JaHWeH, die Allerhoogste God. Wees bedag en weet, herders van My Kudde; Ek sien alles en Ek weet alles. Ek is nie `n God wat ver is nie, maar Een wat in julle midde woon. My Oë beweeg heen en weer oor die hele Aarde en Ek sê vir julle dat Ek diep beskaamd is oor wat Ek sien. Ja, in die staat van Arkansas, tot in julle hoofstad, sien Ek predikers wat hoere is. Julle hoereer agter vroue aan en preek `n woord wat nie My woord is nie. Julle kies verse uit My Geskrifte uit om julle eie agenda te pas en julle bedrieg My volk. Ja, julle stuur die kollektebord vele kere in die rondte sodat julle met julle Cadillacs kan ry en elke begeerte van julle gevoed kan word. Julle gierige predikers van die Woord, julle hol dienste walg My. Julle leë woorde stoot My af. Julle gevoellose houding teenoor die wat seerkry en die wat swaarkry, vertoorn My. Deur julle hoerery het julle My volk uitmekaar gedryf. Julle besoek nie die siekes in die gemeenskap nie, selfs nie eens hulle waaroor julle as herder aangestel is nie. Julle walg My met julle vroomheid en julle "heiliger as die res" -houding ontstig My. Julle weier om My opregte profete en apostels in julle oorde toe te laat, want julle is jaloers op hulle, selfs al is hulle buitestanders wat nie eers aan julle groepie behoort nie. Ook wil julle nie dat die Gees van God julle deur die monde van My opregte profete en apostels tugtig nie, want julle glo dat julle julle sondes kan wegsteek. Nee, julle kan nie julle sondes wegsteek nie, want Ek ken julle en Ek weet wie skuldig is aan al die vorme van seksuele vergrype. Julle is vol egbreek en selfs sodomie en julle glo dat geeneen ooit daarvan sal weet nie en dat julle net kan aangaan op julle pad van boosheid. Ek sien alles en Ek weet alles en Ek beveel julle om tot inkeer te kom. Los al hierdie booshede uit en roep uit in ware berou en bid vir vergifnis en algehele verlossing, want baie van julle is besete deur alle tipes demone. Julle het My heiligdomme oorgegee aan alle soorte hebsug, wellus en sonde en Ek roep julle om tot inkeer te kom. "
Bekeer julle of bedank!
"En Ek sê vir julle, die enkeles, die paar wat My waarlik liefhet en in opregtheid My boodskappe van Goddelike liefde en bekering preek, "Ek weet wie julle is en Ek sê weer dat julle in werklikheid min is." Hierdie staat en Arkansas is vol blindes wat die blindes lei.
Julle kolossale geboue walg My, die geboue wat opgerig is vir die hele wêreld om te sien en waardeur julle in hoogmoed sê, "Kyk wat het ek bereik! Kyk wat doen ek! Hoe groot is ek!" Laat dit bekend wees, o trotse en arrogante predikers, dat Ek teen julle is. In een oomblik sal Ek julle sentrums van hoogmoed verpletter en Ek sal julle kuddes uiteenjaag, want julle is `n vloek vir julleself!"
"Wees lief vir My Kudde!" "Lei hulle tot bekering!"
Ek spreek tot die goeie en getroue diensknegte wat My met hulle hele hart liefhet en Ek sê, "Wees lief vir My kudde! Hou aan om hulle tot bekering te lei."
God se Belofte!
As die pastore tot inkeer sal kom en My volk tot bekering sal lei, belowe Ek `n groot herlewing in die staat van Arkansas. Ek belowe om hierdie staat van `n geestelike woestyn na `n plek van Lewende Water te verander.
God se Oordeel!
Maar as julle nie julle kerke wil skoonmaak nie en julle nie die volk tot bekering wil lei nie, as julle nie die woonbuurtes wil binnegaan en vir die verlorenes wil preek nie, sal Ek hierdie staat deur oorlog, pestilensies, hongersnood, siektes en die dood tref! Ek is `n barmhartige God, maar my oordeel val nou al regoor die Verenigde State van Amerika.
501 (c ) 3 Hoere, Bekeer julle!
Ek sê vir julle, julle gekoopte en verkoopte hoerpredikers. "Hoe veel van julle weier botweg om enigiets teen `n Sataniese regering te spreek? Deur julle eie belastingvrystellingsooreenkoms met die regering, het julle uit vrye wil ooreengekom om weg te kyk, terwyl `n land onder God na `n land onder Satan verander is. Hierdie vrystelling van belastingstatus is ingestel om die waarheid stil te maak. Wie van julle is nie deur hierdie hoerstelsel gekoop en verkoop nie? En wie buiten julleself, het julle rede gegee om voor `n Sataniese regering te kruip?"
Lafaards, pasop!
Ek vra julle, "Is My volk gevul met lafhartigheid omdat hulle nie die waarheid wil praat en nie wil staan vir dit wat reg is nie?" Nee, hulle is nie Myne nie, want Ek het aan My volk die moed gegee om die waarheid te praat en te doen wat reg is.
Kerk van Sodom, kom weg voor My. Myne is hulle wie se klere suiwer gemaak is deur groot beproewinge. Sal `n lafaard beproewinge en vervolging deurstaan om My Naam ontwil? Nee, `n lafhartige sal weghardloop. `n Lafhartige sal My en My Seun verloën.
Kerk, reinig julself voor God en word geseën, of word in opstandigheid vernietig!
Ek sê vir julle, Kerk, kom suiwer julleself voor My en Ek sal julle uitermate seën, maar as julle julleself nie wil suiwer nie, sal Ek julle geheel en al vernietig. Ek is JaHWeH, die Allerhoogste God."
Soos getuig, gedikteer en opgeneem hierdie 1ste dag van Junie, 2001,
Linda Newkirk.