Vanaf die Berg, Boek VII
Hoofstuk 14
"Ek suiwer My Volk"
"My geliefde kind, Ek is jou Vader in die Hemel, ja JaHWeH, die Allerhoogste God. Luister na My, My kind en neem kennis; want julle verlossing kom nader. My kind, regoor die wêreld kreun My volk onder die las van onderdrukkende duisternis. Hulle roep na My en My Seun vanweë hul groot pyn en verdriet. Ek sê vir jou My kind, hierin is wysheid te vinde. Luister na My en skryf soos wat Ek sê sodat dié wat oë het om te sien, kan sien en dié wat ore het om te hoor, kan hoor, en dat dié wie se harte na My gerig is, kan verstaan.Ek suiwer My volk. Ek was en skrop My volk. Ek maak hulle gereed, hier een of twee en daar drie of vier. Ja, My kind, Ek maak Myne gereed; want soos wat hulle gewas word, soos wat hulle gereinig word, soos wat hulle suiwer gemaak word, verhoog Ek hulle vibrasietempo. Want dit wat skoon en suiwer is, vibreer op `n baie hoër vlak as dit wat deur allerhande duisternis besoedel is.
Ja, My kind, Ek bring Myne deur vure van teëspoed, waarby hulle vrywillig hulle lewens geestelik sal reinig, óf hulle sal aanhoudend struikel oor hulle eie groot en donker geskape rotsblok maaksels. Ek sal nie halwe mates aanvaar nie. Ek sal nie leuens aanvaar nie! Hierdie weg is deur Waarheid omspoel en in suiwerheid uitgekap. Almal wat hierin wil wandel, sal op `n hoër vibrasievlak moet wandel, anders sal hulle dit nie kan bewandel nie.
Baie van die wat My en My Seun volg, selfs baie van My profete en apostels, het die kat aan die stert beet. Hulle glo dat My Seun hulle in `n oogwink tot volmaaktheid sal verander. Hierdie is `n versinsel en baie sal die toets faal as gevolg van hierdie tipe denkwyse. Hulle wat My eerste stel en My met hulle hele hart, met al hulle verstand, met al hulle krag en met hulle hele siel liefhet, en wie ander liefhet net soos hulleself, bewandel hierdie weg. Diegene wat nie op só `n wyse liefde uitstraal nie, sal nie hierdie hoër vibasietempo ken nie, want dit is `n vibrasie van suiwer liefde.
Daarom sê Ek aan elkeen van julle: Indien jy `n probleem met jou broer of suster het, gaan na hulle toe en probeer om dit uit te sorteer. Indien hulle jou te na gekom het, vertel hulle die waarheid rondom dit wat hulle gedoen het. Indien hulle nie na jou wil luister nie en indien daar niemand anders, geen ander persoon is, wat saam jou kan gaan om aan hulle hulle verkeerde dade te toon nie, vergewe hulle en vra My Seun om jou seerkry en jou smarte te dra, om jou pyn weg te neem en om jou oortredinge te vergewe. Hy sal dit doen en jy sal vry wees.
Diegene wat hulleself nie met `n eerlike oog wil ondersoek nie, en wat nie wil regstel nie, maar die heeltyd aanhou om ander seer te maak en vir hulle te lieg, sal van die Gees van God afgesny word, indien hulle hulleself nie gaan bekeer nie. Wat hulle gedoen het, sal `n groot struikelblok op hulle weg wees. Dit sal `n meulsteen om hulle nekke word. Hulle wat met diesulkes in hulle verkeerde dade saamstem, sal deur dieselfde lot getref word. Ook hulle sal van die Gees van God afgesny word. Hulle sal ook die las van die verkeerde dinge moet dra waartoe hulle vrywillig ingestem het om te dra en hulle sal ook hierdie verkeerde dinge as aanhoudende struikelblokke hê voor hulle, totdat hulle hulleself bekeer.
My kind, lewensontvlugting en selfkastyding, waarvan baie in die verlede gebruik gemaak het om te manipuleer, om sodoende hul eie wil af te dwing, gaan nie meer vir hulle werk nie. Diegene wat agter kastyding, lewensontvlugting en allerhande leuens aanhou wegkruip en wat hulleself nie wil bekeer nie, sal hulleself agter tralies bevind. Hulle sal vind dat hulle van My en van My Gees afgesny is. Hulle sal vind dat hulle lewens vol duisternis is, want hulle het die weg van opstandigheid gekies. Hulle het die leuen bo die waarheid gekies en getalle voeg nie geregtigheid by opstandigheid en duisternis nie, ongeag die hoeveelheid nee-broers en ja-broers wat hulle kan versamel. Sulke getalle dra maar net by tot `n waansinnige aanvoering van demoniese aktiwiteite en hierdie waansinnige aanvoering is soos `n donker warrelwind wat almal wil meevoer wat daaraan deelneem.
Ek sê aan almal van julle dat Ek besig is om My volk te suiwer en julle sal óf die hoër weg na redding kies, wat die weg van waarheid en suiwerheid is om sodoende met `n groter ligglans van liefde te vibreer; óf julle sal die lae weg van leuens, misleiding en manipulasie kies, om daardeur slawerny en duisternis te kies.
Baie wat daarop aanspraak maak dat hulle My en My Seun ken, steek hulleself agter `n valse ligvertoning weg! Baie roep Here, Here uit en laat allerhande wonderwerke manifesteer; maar Ek ken julle nie. Baie roep Jesus, Jesus, JaHshua, JaHshua, en JaHWeH, JaHWeH, maar julle is ver van My af. Julle sal julle hemelse loon nie ontvang alvorens julle julleself gaan bekeer nie. Want die duisternis van elke woord wat julle gespreek het, sal julle in kettings hou. Julle elke duistere daad is vir julle `n groot struikelblok.
Skynheiliges, skynheiliges! My Seun het oor julle gewaarsku, want julle is gif onder My kudde. Julle is saad van duisternis, bitter saad en Ek spoeg julle by My mond uit. Julle sê een ding, maar doen `n ander. Julle skuil agter My werk en julle spu skrifverse en selfs profetiese woorde uit om My volk te mislei. Julle maak `n groot skouspel en roep hard uit om deur mense raakgesien te word; maar Ek deel julle mee dat julle soos `n kokende teepot is waarin al die water, buiten `n paar druppels, binne-in julle verdwene is; en julle is van plan om die meeste uit die laaste paar druppels uit te kry. Maar Ek sê vir julle dat julle binneste dor en leeg is. Julle praat, praat, praat omdat julle nie die geskal van leegheid en verwarring, wat diep vanuit julle siele te voorskyn kom, kan weerstaan nie. Julle het geen vrede in julle lewens nie en daarom moet julle gedurigdeur verwarring opstook. Julle is wandelende torings van Babel. Julle neem, neem, neem en manipuleer aanhoudend om dit te kry wat julle wil hê. Julle weë is vir My `n gruwel en Ek waarsku julle nou, bekeer julle of vergaan!
Skynheiliges, hoe lank dink julle kan julle nog agter `n masker van misleiding skuil? Glo julle dat Ek `n gek is? Glo julle dat julle almal vir die gek hou? Nee, julle bluf min en julle bedmaatjies is die arme liggelowiges, wat julle nog nie uitgevang het nie, of anders is hulle ook maar van dieselfde kaliber. Julle maak misbruik van mense. Julle lok hulle aan en maak misbruik van hulle. Dit is `n gruwel vir My. Julle het geen verskonings nie; want julle ken die boosheid van julle weë; maar vanweë julle selfsug sal julle enigiets sê of doen om maar net bo te bly. Ja, julle is inderdaad aan die bokant, drywend aan die bokant net soos vuil olie wat op die see ronddryf na `n toksiese oliestorting; en julle woorde is net so vernietigend.
Ek sê aan julle skynheiliges dat die olie wat diep binne-in die Aarde versteek is, oor miljoene jare heen in steenkool kan verander en `n klein gedeelte daarvan selfs in diamant. Maar het julle miljoene jare tot julle beskikking waarin julle julleself van julle skynheiligheid kan bekeer alvorens My Seun weer kom? Nee, julle het nie. Daarom sê Ek vir julle dat julle binnekort tot bekering sal moet kom, of julle sal vergaan.
My kleintjie, ons sal vir eers daarmee volstaan. Plaas hierdie skrywe as die volgende hoofstuk van Boek 7. Ek is jou Vader in die Hemel, ja JaHWeH, die Allerhoogste God."
Soos getuig, gedikteer en opgeneem op hierdie 25ste dag van November, 2001,
Linda Newkirk.