Vanaf die Berg, Boek VII

 

Hoofstuk 16

 

"Hoe God deur Sy Profete spreek"


"My geliefde kind, luister na My; want Ek is jou Vader in die Hemel en Ek het jou geweldig baie lief. My Kleintjie, sommige dinge pla jou gedagtes en jy het gekom vir groter begrip. Het Ek nie gesê dat as een begrip kort nie, laat die een na My toe kom en Ek sal begrip gee nie; en dit is dieselfde vir waarheid. As jy waarheid van My af soek, sal Sy aan jou gegee word."

"Ja, my Vader, U het hierdie dinge gesê deur U gewyde woord."

"Dan moet jy weet, My Kind, dat wanneer jy vra sal Ek gee. Die kern van jou vraag is waarom Ek verskillende dinge met verskillende profete spreek, want sommige van hierdie dinge lyk asof dit weersprekend is."

"Ja my Vader, ek wil dit verstaan."

"My Kind, wat sien jy voor jou?"

"My Vader, dit lyk soos `n soort meetstok, want dit is reghoekig en is opgedeel in seksies. Ek sien myself op hierdie meetstok loop wat goed verlig is en soos wat ek afkyk na hierdie meetstok, ervaar ek U glansryke lig, wat vol liefde, vrede en blydskap is. Dit voel asof ek in sulke vrede en prag dryf en skielik voel ek baie naby aan U. Hoe lief het ek U nie en hoe mis ek nie vir U en onse dierbare JaHshua elke dag van my lewe nie! Vader, wat was dit? Ek hoor `n klapgeluid soos `n sweepslag en nou sien ek `n span perde wat `n wa trek. Ek verstaan dit beslis nie."

"My Kind, wat verstaan jy nie?"

"Ek verstaan nie hoe ons van my vrae oor die meetstok tot by hierdie punt gekom het nie en ook nie wat die betekenis van hierdie bygevoegde visioen is nie."

"My Kind, wanneer jy jouself in die volgende visioen voor jou aanskou, wat sien jy?"

"Ek sien dat ek `n kind is en dat ek voor `n groot lessenaar sit. Ek kan skaars die bokant van hierdie lessenaar sien, want my kop is net verby die blad daarvan, tog het ek het `n pen in my hand en ek is besig om by hierdie lessenaar te skryf."

"Wat glo jy beteken dit?"

"Vader, ek wil nie spekuleer nie; want die visioene wat U vir my gee, beteken selde dit wat ek glo hulle beteken. Ek sal dit net kan weet as U Gees dit openbaar."

"Dit is so My Kind, en dit is so vir elke profeet. My Kleintjie, elke profeet is `n kind. Elke apostel, elke leraar, elke onderwyser, elke evangelis, elkeen wat vir My werk, is `n kind. Jy weet dat jy slegs `n jong kind voor My is, maar baie vergeet hiervan. Baiekeer vergeet hulle wat geroep word om My en My seun te dien dat hulle slegs kinders is en hulle sal hulleself aanmatig om gesag uit te oefen. Hulle sal begin om `n hoë dunk van hulleself te kry. Hulle raak weggevoer met die amp of roeping wat Ek aan hulle gegee het en dan begin hulle om die gevaarlike terrein van die eie ek te betree. Baie wil in oordeel staan teenoor ander profete of apostels. Baie hef onregverdige oordele, terwyl hulle glo dat hulle nie tereggewys kan word nie. Baie word opgeblase deur te glo dat hulle altyd reg is. Baie het hulleself opgestel vir `n groot val.

Almal wat deur My geroep word om My en My Seun te dien, is kinders. Sommige van hierdie kinders is ouer as ander. Dit is nie vir die ouer kinders om te "heer oor" die jongeres nie, maar om die waarheid vir hulle te gee en om hulle te help as daar gevra word. My Kind, die profetiese pad is uniek vir elkeen van julle. Alhoewel Ek dieselfde boodskappe aan baie gee en dieselfde ooreenstemmende punte voor die handliggend sal wees, gee Ek dikwels baie verskillende boodskappe. Hierdie baie verskillende boodskappe mag lyk asof hulle mekaar weerspreek; want `n persoon kan dalk baie belangrike inligting kort wat aan `n ander gegee is.

My, Kleintjie, moet jouself nie bekommer oor wat Ek vir ander profete sê nie. Doen net wat Ek sê en skryf wat Ek sê, wetende dat Ek nie met almal oor dieselfde dinge praat nie en dat Ek nie dieselfde plan met elke profeet het nie. Elkeen van julle is uniek. Baie van julle woon op verskillende plekke reg rondom die wêreld. Sommige van julle sal baie verskillend deur My gebruik word as ander. Onthou dat elkeen van julle uniek is. Ek waarsku almal om vir die dieper betekenis te soek in baie wat Ek sê. Ek is `n barmhartige God en Ek verander wel van gedagte. Aan sommige van julle toon Ek dit wat vasgestel is en wat nie verander kan word nie. Aan baie van julle openbaar Ek dit wat verander sal word as daar genoeg is wat sal bekeer. Aan sommige van julle toon Ek naderende rampspoed sodat julle kan bid en dit afwend. `n Sekere profeet sien die naderende rampspoed en roep die alarm, wat weer veroorsaak dat ander intree deur gebed en die rampspoed word dan afgewend. Is hierdie profeet dan `n valse profeet omdat dit wat hy gesien het en waaroor hy gewaarsku het, nie plaasgevind het nie? Hy het My wil gedoen. Nietemin sal baie sê: "O, dit waaroor hy gewaarsku het, het nie plaasgevind nie. Daarom is hy `n valse profeet! Ek waarsku ieder en elk van julle oor hierdie tipe oordeel! Ek waarsku ieder en elk van julle oor die brandmerk van My ware profete as valse profete oor sekere dinge wat julle nie verstaan nie, want as julle een van My getroues seermaak, sal julle die brand van My oordeel voel. Niemand verstaan My werke en niemand verstaan My weë nie. Hulle wat glo dat hulle My weë ken of dat hulle dit verstaan is uiterste dwase. My woorde en My weë is verborge vir almal. Daarom, laat die dwase in kennis gestel word. Net soos wat jy dink dat jy My en My weë uitgepluis het, sal Ek die mat onder jou uitruk. Ek sal jou lewe onderstebo draai en omkeer binne-in jou. Ek sal `n warrelwind in jou midde stuur en aan jou toon dat jy `n dwaas is. Die trotse en hoogmoedige sal brand soos stoppels. Die sagmoedige en nederige sal My Koninkryk binnetree en hulle is almal kinders. Nie een wat homself of haarself in `n posisie van mag bokant My Kleintjies plaas, sal hier inkom nie. Egomaniakke is op pad hel toe. Hulle wat My dien is sagmoedig en nederig. Hulle wat geroep is om My volk te lei is diensknegte van My volk. Hulle het My volk lief. Hulle help hulle. Hulle suig nie die lewe uit hulle uit en gebruik hulle op nie. My diensknegte ‘heer nie’ oor My kleintjies nie. Hulle wat van die Duiwel is doen dit. My diensknegte is nie geldgierig nie. Hulle plaas hulleself nie bokant die minder bevoorregtes nie. My diensknegte is vol liefde en vergifnis; maar in hulle harte is hulle wys deur My Gees. Elkeen van julle wat `n roeping het, moet hierdie roeping uitvoer volgens die voorskrifte van My Gees. Maar kyk rond! Die massas het My Gees deur opstandigheid uitgedryf. Die kerke is vol van die trotses en hoogmoediges, vol arrogantes! Ek is nie daar nie! Ek is nie in die midde van gierigheid en selfsugtigheid nie! Ek is nie in die midde van verwarring en lawaai nie. Ek is `n God van groot liefde, vrede en blydskap, maar Ek is ook `n God van volmaaktheid, `n God van oordeel. Ek ken harte. Jy kan nie vir My lieg en vals voorkom nie. Jy lieg vir jouself en wanneer jy lieg word jy al hoe meer `n dienskneg van Lucifer. Ek is `n God van Waarheid. Ek lieg nie, maar ook gee Ek nie die hele waarheid nie, maar net gedeeltelik en aan elkeen word die taak opgelê om dit te neem wat Ek gegee het en om dit aan die volk oor te dra. Selfs al is jy seker dat `n profeet lieg of dat hy die merk gemis het, moet nie so haastig wees om te oordeel nie. Want wat vir jou kinderlike verstand dalk as `n leuen mag voorkom, mag in werklikheid die waarheid wees. Moenie dit wat Ek openbaar uit konteks neem en glo dat jy dit verstaan nie. Want baie keer spreek Ek in simbole en selfs wanneer jy weet dat jy weet, mag jy verkeerd wees.

Hou op om My profete te oordeel! Ek oordeel My profete! En Ek oordeel ook die hoerprofete, waarvan nie een myne is nie. Want hulle is vol hebsug, gierigheid, selfsugtigheid, opstandigheid, skindery, ensovoorts. Hulle is nie Myne nie. Julle sal Myne ken deur hulle vrugte! My profete is vol liefde en lankmoedigheid; maar hulle is ook vol waarheid, My Gees van Waarheid. Hulle verafsku `n leuen en sal ook nie gierigheid, selfsugtigheid, trots, arrogansie, opstandigheid, ensovoorts duld nie.

Ek sê nou vir julle, My profete staan op die rand van groot en magtige seëninge, want Ek is op pad om My Gees in `n groot mate op my getroues uit te stort. Magtige wonderwerke wat hierdie Aarde nog nie gesien het vanaf die tyd van My Seun nie, is op pad om onthul te word. Hulle wat My profete nie respekteer nie en wat hulle mishandel, gaan geweldig geoordeel word. Die Elisa-tipe van oordele sal uitgaan en baie van die opstandiges slaan wat My profete leed wil aandoen. Wees dus gewaarsku! Hierdie dag is op hande waarin My oordeel sal val op die vyande van My volk. Ek is JaHWeH, die Allerhoogste God."

"My Vader, mag ek teruggaan en vra vir meer begrip?"

"Ja, My Kleintjie."

"Vader, wat is die toepaslikheid van die meettoestel waarop ek myself sien loop het?"

"Is hierdie pad nie reguit en in seksies opgedeel nie?"

"Ja, my Vader."

"En jy is in die middel daarvan, maar gereed om boontoe te beweeg?"

"Ja, My Vader."

"My Kind, dit is My Reguit en Smal pad en dit verteenwoordig ook die profetiese pad in hierdie lewe. Want daar is profete wat baie jonger is as jy en hulle wat ouer is. Jy is in die middel of middeljarig soos wat julle sê."

"Maar Vader, dit het nie noodwendig te doen met die spesifieke ouderdom per se nie, het dit?"

"Dit is `n goeie vraag, My kind; nee, dit het geen betrekking op die spesifieke ouderdom nie, maar het betrekking op jou profetiese wandel in hierdie lewe."

"Ek is dus naby die middel, maar sal binnekort boontoe beweeg?"

"Dit is so en binnekort sal jy weet wat dit beteken."

"En die groot lig, U lig, wat my omvou het?"

"Dit is alles deel van jou wandeling en hierdie Lig en Krag gaan in `n groot mate binne-in jou toeneem. Jy ontvang dit selfs nou al, alhoewel jy slegs op die rand van hierdie groot golf van My mag is."

"Vader, vertel vir my van die sweep en van die perde met die wa."

"My Kind, hierdie sweep dui `n tyd van oordeel aan vir hierdie land. Dit is ook `n tyd van oordeel vir My huis. Hulle wat geroep is om My te dien, wat in egoïsme, trotsheid, opstandigheid, ensovoorts getree het, is op pad om die pyn van My oordeel te voel. My sweep gaan in hulle midde klap. Myne gaan hulle weë skoonmaak, of hulle sal agtergelaat word."

"Wat van die perde en die wa?"

"Die perde verteenwoordig spanwerk onder My volk. My volk het mekaar lief. My diensknegte het mekaar lief en My ware diensknegte werk saam as `n span. Hulle is nie uit om mekaar deur skindery te vernietig nie en oordeel nie My ander ware diensknegte nie. Hierdie spanwerk kom nou in fokus. Ek roep My gesalfdes na vore, sodat hulle `n netwerk kan opstel en mekaar kan liefhê en mekaar kan ondersteun. Baie van My geliefdes het geïsoleerde lewens gelei omdat ander van julle vol van die eie ek is. Jy steek jou een hand uit om lief te hê en klap met die ander een. Ek sê "Genoeg". Hulle wat wil ry in My wa van groot geestelike Salwings en Mag sal saamry onder My Mag en Liefde, die een vir die ander! Alle bedrieërs, skinderbekke, tweegesigte en afgodedienaars sal binnekort vir goed uitgesluit wees! Julle sal julleself óf verootmoedig voor My en tot bekering kom en om dit wat verkeerd is reg te stel, óf julle sal omkom! Met dit My Kind, sal ons stop vir vandag. Ek is jou Vader in die Hemele."

Soos getuig, gedikteer en opgeneem op hierdie 16de dag van Desember, 2001,
Linda Newkirk.


Afrikaans     BOEK I     BOEK II     BOEK III     BOEK IV     BOEK VII     BOEK VIII     BOEK IX